Ons, lede van die wêreldwye beweging ter bevordering van Esperanto, rig hierdie manifes aan alle regerings, internasionale organisasies en mense van goeie wil, verklaar ons voorneme om standvastig voort te werk aan die doeleindes hierin uitgesproke, en nooi elke organisasie en individu uit om hul by ons strewe aan te sluit.

Esperanto, in 1887 gelanseer as 'n projek om 'n hulptaal vir internasionale kommunikasie te skep, het vinnig ontwikkel tot 'n lewende nuansryke taal wat reeds meer as 'n eeu lank funksioneer om mense oor grense van taal en kultuur te verbind. Intussen het die doelstellings van sy sprekers nie belang en aktualiteit verloor nie. Nóg die wêreldwye gebruik van 'n paar tale, nóg vordering in die kommunikasietegniek, nóg die ontdekking van nuwe metodes van taalonderrig sal waarskynlik die volgende beginsels verwesenlik, wat ons noodsaaklik ag vir regverdige en doeltreffende taalgebruik.

1. Demokrasie 'n Kommunikasiestelsel wat sommige mense lewenslank bevoorreg, maar van andere vereis dat hulle jarelank energie investeer om 'n laer vlak van taalbeheersing te bereik, is fundamenteel ondemokraties. Hoewel Esperanto, soos elke taal, nie volmaak is nie, oortref dit verreweg elke mededinger op die gebied van gelykwaardige, wêreldwye kommunikasie.

Ons beweer dat taalongelykheid kommunikasie-ongelykheid op alle vlakke tot gevolg het, insluitend op internasionale vlak. Ons is 'n beweging vir demokratiese kommunikasie.

2. Internasionale Opvoeding Elke etniese taal is gebonde aan 'n bepaalde kultuur en 'n bepaalde volk of land. Byvoorbeeld, die leerling wat Engels leer, leer van die kultuur, geografie en politiek van die Engelstalige lande, hoofsaaklik die VSA en Groot-Brittanje. Die leerling wat Esperanto leer, leer van 'n wêreld sonder grense, waar elke land as tuiste voorgestel word.

Ons beweer, dat onderrig deur middel van enige etniese taal gebonde is aan 'n bepaalde wêreldbeskouing. Ons is 'n beweging van internasionale opvoeding.

3. Pedagogiese effektiwiteit Slegs 'n klein persentasie van diegene wat 'n vreemde taal aanleer, begin om dit bemeester. Volledige beheersing van Esperanto is moontlik selfs deur middel van selfstudie. Verskillende studies het verslag gelewer dat oor die propedeutiese effek van Esperanto op die leer van ander tale. Esperanto word ook as kerndeel aanbeveel in kursusse wat leerlinge bewus maak van wat taal is.

Ons beweer dat die moeilikheid van die etniese tale altyd 'n belemmering sal vorm vir vele leerlinge wat tog voordeel sou trek uit 'n tweede taal. Ons is 'n beweging vir effektiewe taal-onderrig.

4. Meertaligheid Die Esperanto-gemeenskap is een van die min taalgemeenskappe op wêreldskaal, waarvan die sprekers sonder uitsondering twee- or meertalig is. Elke lid van dié gemeenskap het dit op hulself geneem om ten minste een vreemde taal te leer tot op spreeksvlak. In vele gevalle lei dit tot die kennis van en die liefde vir ander tale, en in die algemeen tot 'n wyer persoonlike horison.

Ons beweer, dat die sprekers van alle tale, groot of klein, behoort te beskik oor die werklike kans om 'n tweede taal hul eie te maak tot op 'n hoë vlak van kommunikasie. Ons is 'n beweging wat dié kans voorsien.

5. Taalregte Die ongelyke magsverdeling tussen die tale is 'n resep vir voortdurende taalonveiligheid, of regstreekse taalonderdrukking by 'n groot deel van die wêreldbevolking. In die Esperanto-gemeenskap ontmoet die lede van groot tale, sowel as kleineres, amptelike tale en nie-amptelikes, op neutrale grond, danksy die wedersydse gewilligheid om mekaar tegemoet te kom. So 'n ewewig tussen taalregte en verantwoordelikhede lewer 'n presedent om ander oplossings vir taalongelykheid en taalkonflikte te ontwikkel en te evalueer.

Ons beweer, dat die waarborge van gelyke behandeling ongeag taal, wat in soveel internasionale dokumente uitgespreek word, deur die groot magsverskille tussen die tale ondermyn word. Ons is 'n beweging vir taalregte.

6. Taaldiversiteit Die nasionale regerings neig daartoe om die groot verskeidenheid van tale in die wêreld te sien as 'n belemmering vir kommunikasie en ontwikkeling. Vir die Esperanto-gemeenskap, is die taalverskeidenheid 'n voortdurende en onmisbare bron van rykdom. Gevolglik is elke taal, net soos elke lewende spesie, al waardevol op sigself en verdien beskerming en ondersteuning.

Ons beweer dat die politiek van kommunikasie en ontwikkeling, indien dit nie op respek vir en onstersteuning van alle tale gebaseer is nie, lei tot die uitsterwing van die meerderheid van die tale van die wêreld. Ons is 'n beweging vir taalverskeidenheid.

7. Emansipasie van mense Elke taal bevry en beperk sy sprekers; enersyds deur aan hulle die moontlikheid te gee om onderling te kommunikeer, maar andersyds deur kommunikasie met andere te belemmer. Beplan as 'n universele kommunikasiemiddel, is Esperanto een van die grootste funksionerende projekte vir die emansipasie van mense – 'n projek om elke mens in staat te stel om as individu in die menslike gemeenskap deel te neem, met stewige wortels in hul plaaslike kultuur en taalidentiteit, maar om nie daardeur beperk te word nie.

Ons beweer dat die ekslusiewe gebruik van etniese tale onvermydelik belemmeringe opwerp vir die vryheid van uitdrukking, kommunikasie en assosiasie. Ons is 'n beweging vir die emansipasie van mense.